Authors: Annelie Botes
en heupe waar dit nie eens seer was nie, en trek haar pajamabroek aan en sê dis slaaptyd.
Hy het die lig afgesit sonder om haar nag te soen.
In die nag droom sy ’n bobbejaanspinnekop byt haar. Sy gif maak ’n ballon in haar maag. Dit swel op
tot sy soos ’n brulpadda lyk. Toe bars sy oop en daar kom ’n klomp slymerige groen paddatjies uit haar
maag.
Wakkerwordtyd was haar mond horingdroog, en haar bed sopnat. Sy het tjoepstil lê en kyk of daar ’n
bobbejaanspinnekop teen die plafon sit, en of daar paddatjies op die vloer spring. Sy het gewens die
laaste twee slapies wil verbygaan sodat haar ma kan terugkom. Miskien het haar ma in Kaapstad ophou
huil oor Anthonie. Miskien bring sy vir haar ’n slaappop, so groot soos ’n regte babatjie.
Sy druk teen die tenk se voetstuk en staan op. Die bondel wit wasgoed behoort klaar te wees. Alles moet
vandag op die wasgoeddraad kom.
Terwyl sy die bont bondel was, sorteer sy die spieëlkaslaaie. Dit was Ouma Strydom se spieëlkas.
Bal-en-klou-pote. Groot middelspieël en twee kantspieëls wat vorentoe en agtertoe draai. Die spieëlkas
moet uit. Want in daardie vervloekte spieëls het sy genóég gekyk. In die onderste laai wat gesluit is, is
walglike goed wat Abel eindelose plesier gegee het.
Sy wil nie daaraan dink nie, maar hoe is dit moontlik dat dié vernederende goed haar kort rukkies lank
op ’n kruin van ekstase kon neersit? Lê die goed en kwaad in die mens werklik só styf teen mekaar?
Staan bietjie links … Buig vooroor … O, jy wil nie? Ek sal jou wys jy wíl!
Eina, eina.
Eendag was daar ’n koning en koningin wat gesê het: “As ons net ’n kindjie kon hê …”
Sak af op jou knieë, Truitjie … Kyk hoe mooi lyk dit in die spieël.
Eendag sit die koningin in die bad, toe kom daar ’n padda uit die water en …
Maak oop jou oë! Ek sién mos in die spieël jy knyp hulle toe!
Toe sê die padda: Oor ’n jaar sal jy geboorte gee aan …
Menigmale het sy op haar knieë teen die bed bly staan lank ná hy geloop het, en in die duvet na God
geroep.
Sy haak Abel se bos sleutels van die kapstok af. Genadiglik het die polisie dit op die toneel gekry en
terugbesorg. Die sleutel vir die onderste laai het Abel aan sy sleutelbos gehou. Te veel kere het hy die
laai oopgetrek en gesien sy het alles weggesmyt. Dure goed, plus posgeld. Ons speelgoedjies, het hy dit
genoem.
Komaan, kies vir jou enigeen waarvoor jy vandag lus het.
Die koning en koningin het al die feetjies uitgenooi na die dogtertjie se doop …
Nou goed, as jy nie wil kies nie, dan kies ék!
Maar hulle het per ongeluk die dertiende feetjie vergeet …
Later leer jy dat weggooi niks help nie. Nog later kán jy dit nie weggooi nie, want Abel het die laai
gesluit en die sleutel aan sy sleutelbos gehaak.
Jy kies op sy bevel. Anders voel dit of jou binnegoed skeur.
Sy kniel by die laai. Nee, sy wil dit nooit weer sien nie. Dit kan saam met Ouma Strydom se spieëlkas
heengaan. Op daardie moment besluit sy: Sodra alles uitgesmyt is, gaan sy petrol oorgooi en dit verbrand.
Saam met Abel en Susarah se donker kante.
Toe haak sy die middelspieël uit die vashouhakies. Balanseer dit op haar kop en stap stoep toe. Ouma
Strydom se spieël verskerf toe sy dit op die stoeppilaar neermoker.
Kantspieël. Ander kantspieël. Die vyf los laaie trek tot in die pampasgras.
Die spieëlkas is swaar. Sleepstoot dit oor die verniste houtvloer tot by die trap. Kry die koevoet in die
waenhuis; druk dit onder die spieëlkas in en kantel dit oor die eerste breë halfmaan. Halfmaan vir
halfmaan, tot dit ’n gat in die grasperk val.
Voor sy die hangkas begin uitstoot, haal sy haar skooltas uit die onderste rak. Dit ruik na leer en
potloodskerpmaaksels. Sy wou die tas lankal kliphuis toe neem, maar was bang die veldmuise vreet
daaraan. Dis veilig in die kas; sy pak haar tydskrifte voorlangs. Wie daarin wil krap, sal die knippe moet
breek, want die sleuteltjie is in die koekblik in die kliphuis. Sy sit die tas op haar lessenaarstoel, pak die
boeke in die boekrak op die lessenaar.
Vir môre. Vir eendag. Dalk vir nooit.
Die hangkas kry sy met woedekrag oor die muur gekantel. Dit val op die basis van die bed en vernietig
Susarah se antieke York and Lancaster-roosboom finaal.
Sy hang die bont wasgoed op.
Dis tien oor twaalf.
Al wat in haar kamer oor is, is haar gestapelde lessenaar, draaistoel, rekenaar en drukker. Gekoop uit
Bonsmara-geld. Háár Bonsmaras. Ontsmet alles met Dettolwater, die buitekant van die skooltas en elke
boek se buiteblad. Gooi ’n wit laken bo-oor.
Toe loop sy tot by die deurkomhekkie. In die skaduwee staan ’n bottel swart tee. En ’n roomysbak met
’n briefie, vasgepak met ’n turfkluit. Stampmielies, skaaprugstring, soetpampoen. Toe sy klaar geëet is,
vou sy die briefie oop.
Goed, Mabel,
skryf sy terug met haar Victorinox-pen
, ek sal die tuin uitlos. Maar weerskante van die
trap gaan ek alles verbrand. Ons kan kwekery toe gaan en alles koop wat jy wil hê. Dankie vir my kos.
Sala kahle vir Mama Thandeka.
Sy rus teen die kiepersolstam. Rivierkant toe tienk-tienktienk ’n bontkiewiet.
Sy sit die turfkluit op die briefie en loop in die eenuurson werf toe.
Oormôre is dit die tweede donkermaan van die maand. Feetjiemaan. Hoekom word ’n tweede
donkermaan in een maand feetjiemaan genoem? Daar is niks feetjieagtig aan donkermaan nie. Dalk is dit
die nag wanneer die noodlot maak dat feetjies verander in blinde vlermuisfeetjies wat teen alles vasvlieg.
Soos sy, wat soveel jare lank teen die boosheid van die nagruiter vasgevlieg het.
Een slapie voor haar ma terugkom.
Sy bad haar skoon-skoon met die spons. Agter haar ore, tussen haar tone. Haar ma moet sien sy is
groot. Sy moenie haar môreaand wil bad en vra hoekom is haar pietermuis so groenpers nie. Sy is skaam
dat haar ma moet weet.
Haar pa praat op die telefoon oor iets van ’n kerkraadsvergadering. Sy sit in die bed en blaai in ’n
Rooi Rose
. As daar twee R’e is, is dit
Rooi Rose
. Omblaai. Soek die letters van Gertruida. Letters soek is
lekkerder as prentjies kyk.
Toe sy opkyk, staan haar pa in haar deur. Dit lyk of hy kwaad is oor iets van die kerkraadsvergadering.
“Watter storie wil jy vanaand hoor, Truitjie?”
“Ek wil eerder letters soek in die Rooi Rose.”
“Nee.”
Hy klink kwaai. Dit maak haar keel droog. “Dit maak my slim om …”
“Skuif op, dan vertel ek die Paddaprins. Ons moet jou Vaseline smeer.”
Maar hy vertel nie die Paddaprins nie. Hy vertel van die likkewaan wat snags by die huis inkom en sy
gesplete blouen-geel tong in jou neus druk en jou brein uitsuig. Dan waggel hy deur die huis en suig almal
se breine uit. Begin weer voor, en suig almal se oë uit. Tot niemand op Kiepersolkloof breine en oë het
nie.
Die miere kielie haar nie, want heeltyd sien sy die likkewaan se tong. Haar pa sê sy moet haar mond
groot oopmaak. Iets ruik na sardiens. Haar pa maak towersalf in haar mond. Hy is weer so moeg, maar hy
sê hy sal by haar lê tot sy slaap.
“Truitjie, towersalf is óns twee se geheim. Mamma en Mabel en Mama Thandeka mag nie weet nie.
Ook nie Tannie Martie by die speelskool nie. Niémand nie.”
Dis lekker om in sy arm te lê. Soos lank terug toe Anthonie in sy ander arm gelê het en hy Wolf en
Jakkals en die bottervaatjie vertel het.
“Solank jy stilbly, sal die likkewaan wegbly. As jy praat, help dit nie ons sluit die deure nie, want hy
slaan ’n gat in die deur met sy stert.”
Stilbly. Moenie praat nie. Oppas vir die likkewaan.
“Belowe jy, Truitjie?”
Sy het haar voorvinger in die lug gesteek. Gefluister. “Ek belowe, vir altyd …”
“Is jy nog lief vir Pappa, Truitjie?”
“Baie, meer as tienduisend en nog veertien.”
Hy het lank by haar gelê. Sy het gemaak of sy slaap, maar die skurwerige smaak in haar mond wou nie
weggaan nie. Hoe groot is die gat wat die likkewaan in die deur slaan? Sal Bamba blaf? Hoe lyk ’n mens
sonder oë? Kry mens likkewaangif? Toe skuif hy sy arm saggies uit en vou die komberse om haar nek.
Sy kon nie verstaan hoekom hy huil toe hy uitloop nie. Miskien verlang hy ook na haar ma. Of miskien
is hy verkoue.
Jy verloor jou praat. Want jy mág nie praat nie.
Almal dink dis oor Anthonie dood is dat jy anders geword het. Hulle dink jy is vol fiemies oor kos, en
dat jy dom is, omdat jy nie wil praat nie.
Niemand weet hóé bang is jy vir die likkewaan nie.
*
Ek rus op die kooi agter dinnertyd. Dis skemer in die kamer, want Mabel het die gordyne toegetrek. My
hart is vol swart trane. In my swakte wil ek sê: Masithandaze, kom ons vra die seën. Op almal wat al
weggevaar is, en op almal wat oorbly. Ons het te lank met sneeu in onse harte gelewe.
Toe die son skuiwe vir twaalfuur is Mabel weg met Gertruida se kos. Die stukkie rugstring wat oor
was van die maandskaap was klein, toe sê ek my maag soek nie vleis nie. Sy’t gesê sy wil rivierkant af,
met die honeysuckleheining langes werf toe, sodat Gertruida haar nie gewaar nie.
“Eet Mama se dinner en lê bietjie skuins wyl ek gaan spaai,” het sy gesê.
Mabel sal haar nie laat vang nie. Daar’s slim bloed in haar. My tata se bloed wat haar ’n spoorsnyer
maak, ruik alles uit. Abel se bloed wat haar vooruit laat sien asof sy tien oë het, en elkere oog draai op sy
eie, nes ’n verkleurmannetjie s’n. Al het sy nie van Samuel se bloed nie, is sy slimme woorde in haar. Is
goed sy hou die werf dop. Is al jare dat ek wag vir die dag dat Gertruida se kwaad te groot raak vir haar
kop.
Toe sy ’n meisietjintjie was, het sy aaneen gepraat. Nes die muisvoëls as daar ’n boomslang in die
takke seil. Saterdae as die mense op Kiepersolkloof kom tennis speel en kuier tot waffer tyd van die nag,
en ek moet inbly vir skottelgoeters was, het Gertruida op die tuinbank of op die klavierstoel gestaan en
vir die mense konsert gehou. Sing liedjies, al die versies. “Dit is my mama lief en goed” … “Jesus min
my” … “Siembamba, mama se tjintjie”. Met “Old McDonald” kon sy al die geluide maak. Donkies,
varke, hoenders, duiwe. Dan klap die mense hande en Gertruida buig soos iemand wat weet van buig.
Missus Susarah was ’n goeie mama. Sy’t Gertruida mooi geleer in die kombuis. Nooit bohaai
opgeskop as Gertruida haar vingers in die deeg steek of ’n eier laat val nie. Meel sif. Bak
gemmermannetjies. Geduldig om haar te leer om kettinkies te maak met die hekelpen. Storieboeke.
Papierpoppe. Tapes met versies, liedjies, raaisels. Gertruida was altoos so lief vir raaisels.
“Raai-raai: Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep, woerts in die hoekie?”
“Ek sal nie weet nie, Gertruida.”
“Dis ’n besem! En: daar groei ’n boontjie voor my deur; sy ranke loop die hele wêreld deur?”
“Nee, Gertruida, jy’s te slim vir my!”
“Dis maklik, dis ’n pad!”
Gertruida was nie vreestelik hartseer oor Anthonie nie. Nog te klein om die dood heeltemal te
geverstaan het. Partykeers kom sy uit die tuin met rooibessies, sê dis ag-en-twintig. Ek tel selwers; dis ag-
en-twintig. “Jy moenie enige bessies eet nie, party is giftig. Waar kry jy hierdies?”
“Dis hemelbessies,” sê sy. “Ek kom nou net van die hemel af. Anthonie het dit vir my gegee. Hy sê ek
moet dit met jou deel, Mama Thandeka.”
Dan sit sy veertien bessies eenkant. Nie een diékant toe en een dááikant toe tot die bessies op is nie.
Slim vir haar vier en ’n halwe jare. Maar stadigaan, sonder dat ek dit wis, bekruip die groot stilte haar.
Ek sê Missus Susarah moet laat kyk na Gertruida se mangels, want vrot mangels kan ’n kind sleg
terugsit. Missus Susarah sê sy gaan sommer vir Gertruida wurmpille ook ingee, want sy bly aan’t krappe.
Niks help nie.
Daardie Nuwejaarstyd toe sy vyf jare word, is sy terug by bed natpie, en dit smaak of sy haar tong
ingesluk het. Geneukte was dat sy nie nét Anthonie geverloor het nie. Sy’t haar mama ook geverloor, aan
huilsiekte.
In daardie tyd van sware rou het Missus Susarah en Abel mekáár ook geverloor. Ek rekent Abel het
die meeste geverloor. Missus Susarah huil heeldag en beskuldig hom dag ná dag oor Anthonie se dood. In
die kerkhof het die graffie nog gewag om te sak ná die winter voor Abel ’n kopsteen kon opsit. My eie
hart was droef oor Samuel wat in die winteraarde lê. Agter Anthonie se dood is Gertruida die enigste een
op die werf wat lag en liefde uitdeel. Maar ook nie vir lank nie.
Eendag skil ek pampoen. Abel kom uit die dipkraal om vir Missus Susarah tee te vat; bietjie te troos.
Ek sien hy’t gehuil. Anthonie was sy tjint ook. Wie sê nie hy’t huis toe gekom omdat Hy troos soek nie?
Maar ’n man huil op plekke waar ander oë nie sien nie. Soos in die dipkraal. Abel sit twee winkelkoekies
in die piering en loop kamer toe. Ek hoor tot in die kombuis hoe skreeu Missus Susarah op hom.
“Behalwe dat jou pa jou opgedônner het, het die army jou verder opgedônner! Jou kind se dood is jou
straf, omdat jy mense se ore afgesny het!”
“Asseblief, Susarah, dit was …” Hy praat te sag om te hoor.
“God slaap nie, Abel Strydom, en Hy is nie klaar met jou nie!”
Van daardie tyd af lyk dit of iNkosi se seën oor hulle maar skrapserig is. Straks het hulle sy seën nie
aangeneem in hulle harte nie.
Agter die tyd toe Abel se broers klaar is met die army, gaan kry hulle hulle gelerendheid. Latertyd is die
een ’n man wat uitwerk hoe die groot dorpe se strate moet loop. Ander een is ’n dokter wat sny aan
kniekoppe en bene. Ryk. Nie lank nie, toe sit hulle nie meer hulle voete op Kiepersolkloof met hulle