Authors: Annelie Botes
THULA THULA
Annelie Botes
Tafelberg Finansiële ondersteuning word met dank erken.
Enige ooreenkoms tussen hierdie fiktiewe verhaal en die werklikheid is bloot toevallig.
Inhoud
Woensdag, 27 Augustus 2008
Donderdag, 28 Augustus 2008
Vrydag, 29 Augustus 2008
Saterdag, 30 Augustus 2008
Woensdag, 27 Augustus 2008
◊◊◊
Die reën drup uit haar hare toe sy terugstaan om die bord teen die werfhek te bekyk. Groen bord, wit
hoofletters.
KIEPERSOLKLOOF
GERTRUIDA STRYDOM
TOEGANG VERBODE
OORTREDERS SAL VERVOLG WORD
Die tang is koud in haar hand. Sy is bly sy het die bord gister klaargemaak en geverf. Dadelik opgesit toe
sy vroegmiddag terugkom van die begrafnis op die dorp.
Sy tel die afvaldraadjies op, sit dit saam met die tang in haar swart begrafnisbroek se sak. Stap deur en
stoot die hek agter haar toe. Lussie inhaak. Hang die ketting om die hekraam en hekpaal. Terwyl sy die
slot toeklik, kyk sy na haar benerige hande wat ouer lyk as ses-en-twintig jaar. Ouvrouhande.
Kiepersolkloof. Háár erfenis. Niemand sal sonder haar toestemming by die hek inkom nie. Sy wil
alleen wees. Vir die grootste deel van ses-en-twintig jaar was sy níks. Ontneem van seggenskap oor haar
grense. Die enigste plek wat háre is, is die kliphuis wat sy diep in die berge teen ’n beboste suidhang
gebou het. En die hoektafel agter die nooienshaarvaring in Die Koffiekan op die dorp waar sy en Braham
Fourie, toe hulle nog kontak gehad het, koffie gedrink het.
Sy stap stadig in die misreën opstal toe. Ruik die geur van die laventelheininkie wat die tuinpaadjie
omsoom. Selfs in die nawinter is die tuin ’n lushof.
Nog altyd was dit háár taak om die hek toe te maak, om die Bonsmaras uit haar ma se afgodtuin te hou.
Kleintyd was dit haar pa se speletjie om haar by die hek te laat uitklim, dan sit hy ’n peperment in haar
hand as hy deurry. Sy hou altyd haar linkerhand, want haar regterhand stink na vrot vis en pie, en dis taai.
Toe sy groter was, was dit ’n verlossing om by die hek uit te klim, om weg te kom van hom af. Steek
nie haar hand uit soos kleintyd nie. “Vat jou peperment, Gertruida, dis jou beloning vir die genot langs die
pad.” Staan soos ’n soutpilaar. “As jy dit nié vat nie, smelt ons hom vanaand binnein jou, en dan eet ék
dit. Gaan jy dit vat …?”
Sy het die peperment gevat en tussen die agapante by die hek gegooi.
Nadat sy op agtien, toe sy in graad elf was, haar lisensie gekry het, en ’n motor uit hom gemanipuleer
het, het sy nooit weer saam met hom gery nie. Maandae op haar eie koshuis toe en Vrydae terug plaas toe.
En nooit weer sal sy iets eet wat na peperment smaak nie.
Toe sy klein was, moes sy sewentig treë gee tot by die stoeptrap. Sewentig treë van bid: Ek is ’n
kindjie klein, maak my hartjie rein. Soos haar bene met die jare gerek het, het die treë minder geword.
Toe sy sewentien was, het dit vasgesteek op vyftig treë.
Dis al nege jaar dat dit vyftig treë bly.
In die verte waaier die swierige leikliptrap, met ’n klippilaar weerskante van die onderste trappie. Op
elke pilaar ’n bruin kleipot waaruit hen-en-kuikens tuimel. Vir die eerste keer in haar lewe vrees sy nie
die trap nie. Want verby die trap, agter die kiaathoutdeur, is niemand wat haar lyf kan besit of binnedring
of verniel nie. Niemand wat haar grense vertrap, of haar nakend in die maanlig laat dans nie. Die ruiter
wat van haar sy merrieperd gemaak het, is dood.
Vooraanstaande Bonsmaraboer. Dagruiter. Rugruiter. Abel Strydom. Haar pa.
Tien treë. Nog veertig tot daar.
Agter die kiaathoutvoordeur is ook nie meer ’n voorvatvrou wat van beter behoort te weet as om blind en
doof te speel nie. Sý is ook dood. VLV-voorslag. Tuinekspert. Ouderlingsvrou. Susarah Strydom. Haar
ma.
Vyftien treë. Nog vyf-en-dertig treë tot by die trap.
Vier dae gelede, op pad Nagmaal toe, het hulle verongeluk op die plaaspad. Abel was nooit ’n man vir
stadig ry nie. Te oordeel na die wrak het hy die koedoebul volspoed getref. Die horing het Susarah se hart
deurboor en haar teen die rugleuning vasgepen.
Abel se nek was gebreek.
Sy het voorgegee sy huil toe die polisie die tyding bring.
Vanoggend is hulle in die dorpsbegraafplaas begrawe. Sy het verseg om hulle oorskot op haar grond te
hê. “Begrawe hulle op die dorp,” het sy vir die ondernemer gesê nadat sy die lyke Sondagoggend gaan
uitken het.
“Gertruida, jou ouma en jou broer lê ook in die familiekerkhof …”
“Ék sal besluit waar hulle begrawe word.” Hy het sy hand opgehou, maar sy het hom doodgepraat. “Ek
wil die reëlings nóú finaliseer vir Woensdagoggend, elfuur.”
Sy wou wegkom uit die dorp. Alleen wees. Bly wees. Huil oor twee-en-twintig stukkende jare.
Teruggryp na die veiligheid wat sy onthou van haar vroeë dogtertjiejare toe sy nog in feetjies en die
tandmuis geglo het, en nie bang was vir ’n deurknop wat snags draai nie. “Doen net wat jy wil, solank
alles glad verloop. Tee, koek, traktate, roustrikkies, kiste. Enigiets.”
“Kom kies die kiste uit.”
“Kies self.”
“Maar, Gertruida, die pryse en verskeidenheid …”
“Ek sê: kies self.”
Daar was ’n menigte mense by die diens. Sy het geweet hulle skinder-fluister: Tog tragies dat God
hulle so vroeg geroep het. Hulle was maar in hulle vyftigs, daar was nog so baie wat hulle vir die
gemeenskap kon beteken. Groot vraag is: Wie gaan nou op Kiepersolkloof boer, en waghond speel oor
Gertruida?
Haar oë was droog toe die predikant die geloofsbelydenis lees terwyl die kiste sak. Al waaraan sy kon
dink, was die ketting en slot wat sy by die koöperasie wou koop voor sy plaas toe ry. Vinnig winkel toe
vir ’n bietjie kos. Hoesmedisyne vir Mama Thandeka. Suiker en jelliemannetjies vir OuPieta.
Twintig treë. Nog dertig om te loop.
Van almal by die teraardebestelling ken net sý die waarheid oor Abel en Susarah Strydom. Toe sy opkyk,
sien sy Braham Fourie in die skare oorkant die graf, sy oë op haar. Dan is daar twee mense by die
begrafnis wat die waarheid ken. Sy. En hy.
Sy het gemaak of sy hom nie sien nie. Vir die soveelste keer was sy spyt sy het in haar graadelfjaar die
deur van haar geheimkamertjie op ’n skreef oopgemaak vir hom.
Vyf-en-twintig treë. Halfpad.
Die begrafnisgangers het blomme op die kiste gegooi. Sy het die mandjie ligpienk
wildekastaiingblomme verbygestuur. Sy sou nié ’n blom aan hulle offer nie. Sy het haar vingers agter haar
rug gestrengel, want sy wou haar hande weghou van die graf. Haar hande was té veel kere té naby aan
Abel Strydom.
“Kom, Gertruida,” het die dominee se vrou gefluister, “vat ’n blommetjie …”
“Ek wil nie.”
“Kom nou, Gertruida …”
Almal dink sy is dom. Sê mos die weerlig het langs Susarah se regtervoet geslaan die dag voor haar
geboorte. Dit het ’n stadigheid oor haar gebring. Later los hulle die weerligstorie. Hulle sê dis haar broer,
Anthonie, se dood wat haar geknou het. Nóg later hoor sy dat sy kamstig met ’n blaasdefek gebore is.
Alles toesmeerdery. Laat die dominee se vrou dit glo as sy wil.
“Miskien wil jy later, as almal weg is, ’n blommetjie …”
“Ek sal nie wil nie.”
Die dominee se vrou het gesug en aangeloop met die mandjie.
Veertig treë. Sy sien die reën neersif op die leikliptrap.
Terwyl sy oor hulle heenkyk, het sy besluit dis beter dat hulle glo sy is dom. Eerder dom as ’n slet wat
met haar pa bed toe gaan. Wie sal haar glo as sy sê hy het haar twee-en-twintig jaar lank verkrag en
gesodomiseer? In haar onregwysheid, sal die mense sê, praat Gertruida ’n klomp opmaakstories. Want as
daar ’n man van onkreukbare integriteit is wat dit nié aan sy dogter sou doen nie, is dit Abel Strydom.
Toe druk iemand van agter iets tussen haar vingers in. ’n Wildekastaiingblom. Toe sy omkyk, staan
Braham agter haar. Sy laat val die blom en trap daarop.
“Ek sal in Die Koffiekan wag tot twee-uur.”
Antwoord nie. Kyk hom koud aan.
“Laat weet as jy my nodig het, Gertruida.”
Vyftig treë.
Sy haal die tang en draadjies uit haar sak en gaan sit op die nat trap. Vandat sy Sondag teruggekom het van
die begrafnisondernemer, was sy nie weer in die huis nie. Sy wil nie in die dooies se hangende asems en
vuil onderklere vasloop nie. Al is dit koud en nat en ver om te loop, gaan slaap sy eerder in die kliphuis.
Ver weg raas die paddas by die rivier. Voor donker wil sy vir die rivier gaan sê die grafte is
toegegooi, twee-en-twintig jaar se marteling is verby.
Sy wóú Braham Fourie ignoreer. Sy het nie sy hulp nodig nie. Of dié van enige man nie. Nie nou of ooit
nie.
Die suidoostewind waai die stuifreën in haar gesig waar sy
op haar rug op die onderste trappie lê. Dis koud, maar helend.
Dit het lanklaas gereën.
Terwyl die dominee die kluit op die voetenente van die kiste krummel, het die reën uitgesak. Die
slotgesang is in stortreën gesing. “Bly by my, Heer, terwyl die skemer daal …” As sy Abel en Susarah nie
so gehaat het nie, sou sy kon huil. Maar sy kan nie meer huil nie. In die loop van twee-en-twintig jaar het
sy haar gestaal teen vóél. As mens vóél, dan pyn jy. Sy het genoeg gehad van pyn.
Dit pyn as jou pa ’n bruistablet-houertjie in jou opdruk. Dit pyn as die kinders jou by die skool koggel
en sê jy stink. Dit pyn as jy op ’n volmaannag geboorte gee aan ’n skandekind. Dit pyn as Braham Fourie
met ’n ander vrou personeelfunksie toe gaan.
Later raak mens pyndood. Asof daar skubbe op jou vel en in jou hart groei.
Sy rol op haar sy en stut haar op haar elmboog; lek die reën van haar lippe af. Haar langbroek kleef
yskoud aan haar bene.
Nog nooit was sy so angsloos nie. En terselfdertyd so rigtingloos. Haar gedagtes is ’n warboel. Soos